Mans se gesondheidsrisiko's

Syfers vir die 15 hoof-sterfteoorsake van die algehele Amerikaanse bevolking is hoër onder mans as onder vroue. Mans sterf gemiddeld bykans sewe jaar vroeër as vroue. Mans is ook meer vatbaar vir kroniese siektes en troumatiese breinbeserings; of om van verworwe immuniteitsgebreksindroom (vigs) om te kom. Mans is geneig om minder oefening in te kry en om oor die algemeen oorgewig te wees. Hulle sal ook nie sommige aanvullingsmiddels, soos vitamiene, inneem nie en skenk ook minder aandag aan hul gesondheid as vroue. Die rede wat soms aangevoer word, is dat mans “toegelaat” word om oorgewig te wees. Die media kan ’n bonkige man steeds as manlik en selfs aantreklik voorstel. Die gedrag en groter gesondheidsbewustheid wat deur vroue geopenbaar word, geskied weens die klem wat die samelewing op voorkoms en ’n slanke lyf van vroue plaas. Indien 'n vrou oorgewig is word sy deur die Westerse samelewing as minder vroulik gesien. Om hierdie rede sal vroue probeer om gesonder te leef en hulself te versorg.

Hoewel hoogs debatteerbaar, glo wetenskaplikes dat gedrag die belangrikste faktor is wat gesondheid beïnvloed en dat gedragsveranderinge die doeltreffendste manier is om siektes te voorkom. Party gedragspatrone wat met hegemoniese manlikheid vereenselwig word, sluit in ambisie, ’n suksesgeoriënteerde ingesteldheid, onafhanklikheid en om onkwesbaar, emosioneel kalm en soms waaghalsig op te tree. Dit is wél die aanvaarde gedrag en karaktereienskappe vir mans in die Westerse samelewing, maar indien dit na die uiterste oorhel, kan dit gedragspatrone skep wat skadelik is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search